WAAR STAAN ONS NOU?
Suid Afrika dra vandag ook aan mooi herinneringe aan wat was. Deur die jare het ons met vindingrykheid en deursettingsvermoë ’n land help bou. Al voel dit soms of ons talente en bydraes vandag nie meer waardeer word nie, weet ons een ding seker: niemand kan ons Godgegewe vermoëns van ons afneem nie.
Dit is tyd om weer voor te begin — nie uit bitterheid nie, maar uit wysheid en in hoop. Soos ons voorouers voor ons, staan ons op en kies om ’n nuwe pad oop te breek
.
HOE GAAN ONS VORENTOE?
Die wêreld het verander. Kommunikasie is vinniger, geleenthede is anders, en uitdagings kom in nuwe vorms. Ons word gekonfronteer met energie-onsekerheid, ekonomiese druk en ’n gevoel dat ons al hoe meer van eksterne bronne afhanklik gemaak word. Tog lê daar ook groot moontlikhede in hierdie nuwe tyd — veral deur tegnologie en samewerking wat vroeër ondenkbaar was.
Ons wil nie ons toekoms aan enigiemand anders uitlewer nie, nie eens aan goeie handelsvennote nie. Ons wil selfstandig wees — nie afhanklik nie. Vry om ons eie pad te loop.
Hoe werk ons om die Visie te laat realiseer?
Ons is makers en bouers. Daardie gees leef steeds in ons. Die Maker-Beweging wil juis hierdie vindingrykheid bymekaarbring en organiseer sodat ons saam sterker kan staan.
Selfstandigheid is nie net om self te werk nie. Dit beteken om as gemeenskap so min moontlik van ander afhanklik te wees — om ons eie behoeftes te kan vervul met ons eie kennis, vaardighede en hulpbronne.
Dit gaan nie oornag gebeur nie. Soos ’n boom wat eendag vrugte dra, moet ons eers die regte saad kies, die grond voorberei en dit met sorg versorg. Die Maker-Beweging wil daardie saad help vind en saai.
Visie
Om ons mense ekonomies sterk en selfstandig te maak — deur ’n netwerk van kundigheid, vaardighede en samewerking te bou wat ons in staat stel om vir onsself en mekaar te sorg.
Hoe gaan ons dit doen…?
- Versamel en ken ons kragte:
Ons wil ’n duidelike prentjie kry van watter vaardighede, kennis en ervaring binne ons geledere bestaan. - Verstaan ons behoeftes.
Wat het ons gemeenskap werklik nodig? Hoe kan ons daardie behoeftes so ver as moontlik uit ons eie geledere voorsien? - Bou saam
Deur oop gesprek, goeie raad en beplande aksies wil ons klein oorwinnings behaal wat lei na groter selfvertroue en onafhanklikheid.
’n Belangrike fondament.
Ons doen dit nie net uit selfbehoud nie, maar in geloof. Ons is geroep om instrumente te wees in ’n groter verhaal. Soos Psalm 127 sê: “As die Here die huis nie bou nie, bou die bouers tevergeefs…”
Ons wil nie parasiete wees wat net neem nie, maar
simbiote — wat bydra, bou en saam floreer.
Jy is welkom om solank te begin help.
Gaan gerus na die Vraelys om aan te meld as deel van die Makerbeweging.